Tuesday, 7 January 2014

Dringende Versoek: Mosselbaai - Uitloop van geute in rioolstelsel onwettig.

Dit is 'n oortreding van die Munisipaliteit se Verordening insake Waterdienste om geute in die rioolstelsel te laat uitloop, en 'n beroep word gedoen op huiseienaars by wie se huise dit gedoen word om hul geute te verander sodat reenwater nie in die stelsel beland nie.  Die stelsels is nie ontwerp om die bykomende las van reenwater te hanteer nie.

Versuim om aan die verorderning te voldoen, kan tot vervolging in die munisipale hof lei.

Die Munisipaliteit ondervind dikwels dat rioolmangate oorloop, nie weens verstoppings nie, maar weens die feit dat die rioolnetwerk nie ontwerp is om die addisionele watervolumes tydens reenbuie te hanteer nie.

Statistiek wat in Augustus 2013 geneem is, toe 55mm reen in twee dae geval het, het getoon dat die invloeivolumes tydens die reen van die normale 6.5 megaliter per dag tot 16.4 megaliter per dag gestyg het.  Die pompe in die rioolstelsel is nie ontwerp vir die soort volumes nie.

Dit toon ook dat stormwater in die rioolstelsel beland het, en dit kan aanvaar wod dat water deur middel van geute in die stelsel beland, die hoofoorsaak van die probleem is.

-  Mosselbaai Munisipale Nuusbrief

Nota:  Dit is opmerklik dat die huidige reen weereens veroorsaak het dat die rioolnetwerk nie die addisionele watervolumes kan hanteer nie.  Gevolglik het dit daartoe gelei dat rioolmangate oorloop en in sommige gevalle is rou riool opgemerk in strate.  'n Beroep word gedoen op die gemeenskap om hul samewerking in die verband te verleen ten einde besoedeling te verhoed. Kom ons gee almal ons samewerking in die verband - MSBWX