Friday 9 May 2014

Oudtshoorn: Brand verwoes huis

Brandweermanne en vrywilligers lê nog brandslange aan om die vuur te bestry. Foto's: Hannes Visser

OUDTSHOORN NUUS - Die boonste verdieping met alle huisraad van 'n huis by Schoemanshoek is gisteroggend deur 'n brand verwoes.

Pieter Strauss, 'n finansiële raadgewer, en sy vrou Esmarie, 'n onderwyseres by Hoërskool Gimnasium was beide by die werk toe bure hulle bel met die nuus dat hulle huis besig is om af te brand.

Volgens bure het 'n boer van die omgewing vanaf die grottepad die vuur gesien en by Thorntree gastehuis alarm gaan maak. Louis Lategan van Thorntree sê hy het onmiddelik omgejaag na die brandende huis, maar bure en werkers het toe reeds die voordeur oopgebreek en begin om huisraad en besittings na buite te dra. Teen daardie tyd was die hele boonste vedieping in ligte laaie en geen huisraad kon daar verwyder word nie.

Met die aankoms van die Oudtshoorn Courant was dosyne vrywilligers steeds besig om huisraad te verwyder en op veilige afstand in die tuin te pak. 'n Sterk wind het die vuur wat op die boonste verdieping gewoed het aangeblaas. Verskeie vrywilligers het ook hulp aan brandweerpersoneel aangebied en selfs op die dak geklim en gehelp met die waterslange.

Pieter en Esmarie was nog te geskok op die toneel om kommentaar te lewer en het hulle hande volgehad om seker te maak dat waardevolle items en vuurwapens veilig bewaar word.

Smuts van Rensburg, 'n gereelde rubriekskrywer, leraar en buurman van die Strausse het gesê die vuur het geweldig vinnig versprei. "Dit is ongelooflik hoe vining so iets gebeur, maar dit is net so ongelooflik om te sien hoe mense van oral opdaag om te help."

Ongeveer twee ure nadat die vuur aangemeld is het die boonste verdieping se vloer en dakbalke steeds gesmeul, maar alle huisraad was vanuit die grondverdieping verwyder. 'n Vriend van die gesin het gereel dat 'n meubelwa die meubels oplaai om geberg te word.

Dit was teen saktyd onbekend wat die oorsaak van die vuur was en die omvang van die skade kon ook nog nie bereken word nie, maar beloop vermoedelik honderde duisende rande.

Lees meer HIER EN HIER.

- Oudtshoorn Courant