Friday 9 May 2014

Opvolg: Mosselbaai - Seiljag vergaan, een droom sneuwel

Terug in Hartenbos is Darrel en Hesta Hansen verlig om weer veilig bymekaar te wees, nadat Darrel se seiljag, die INGRID, Maandagnag naby Oesterbaai vergaan het. Foto: Nickey le Roux

MOSSELBAAI NUUS - "Dis die einde van hierdie droom, maar daar lê nog baie voor," sê Darrel Hansen (62), amper profeties, na die noue ontkoming waarin sy seiljag in stormsee by Oesterbaai vergaan het en hy dit ongedeerd, maar naak en sonder sy prostese, tot op die strand gemaak het.

Hy het 17 jaar gelede 'n been in 'n motorfietsongeluk verloor. Tog glo Darrel Hansen die Here het 'n plan met hom.
"Nou begin ons net weer van voor af."

Hierdie avonturier was voornemens om binnekort 'n wêreldreis met sy seiljag te onderneem en die vaart na Port Elisabeth was 'n oefenlopie.
"Ek het Saterdag uit Mosselbaai vertrek, op pad na Port Elisabeth. Ek het sedert Sondagaand baie wind en rowwe see beleef en het daarom besluit om Maandagaand skuiling in Oesterbaai teen die stormwind te soek. "Voordat ek kon anker gooi, het ek terwyl ek onder in die kajuit was, 'n vreemde dreuning gehoor. Buite op die dek, het ek omstreeks 22:00 'n wal water gesien aankom. Ek het die brander sien breek en geweet daar is nie wegkomkans nie.

"Op daardie stadium, het ek nog 'n harnas aangehad. Die eerste brander het my van die seiljag afgegooi. Ek het weer aan boord gekom en die harnas afgehaak.

"Daar was weer 'n groot brander op pad en ek het op die ingewing besluit om die sowat 300 meter land toe te probeer swem.
"In die water, het ek besef die oliepak wat ek aan het, trek my onder. Die golwe het my rondgeslaan en getuimel. Ek het van al my klere ontslae geraak en kon onmiddellik beter swem," aldus mnr Hansen.

Hy dra nie sy prostese aan boord nie, het mnr Hansen gesê.

Hy het omtrent 20 minute tot 'n halfuur gespook om die strand te bereik en het daar 'n plastieksakkie opgespoor wat hy ter wille van kuisheid om sy lyf kon bind.

"Ek was só moeg! Ek het Saterdagaand nie veel geslaap nie, en Sondagaand glad nie geslaap nie.
"Ek het later gehoor die baai is bekend vir baie sterk strome. Die krag waarteen die see terugtrek het my laat voel dis 10 tree vorentoe en 30 tree terug. Op die strand het ek aan die slaap geraak en het van die koue wakker geword."

Om warm te bly, het hy maar sy lyf met sy hande bly vryf.

Hoewel mnr Hansen die huise kon sien, en sowat een kilometer in die rigting van die huise gekruip het, kon hy nie die huise bereik nie.
"'n Oom en tannie wat langs die see gaan stap het, het sowat 08:00 Dinsdagoggend gehoor ek roep en hulle het die NSRI ontbied."
Weens die storm die vorige nag, het inwoners nie opgemerk dat die INGRID vergaan nie.

Volgens mnr Mark Mans, stasiebevelvoerder van die NSRI Oesterbaai, is vrywilligers omstreeks 08:00 op Dinsdag, 6 Mei geaktiveer om mnr Hansen by te staan. Hulle het mnr Hansen naak op die strand gekry. Hy is na die huis van mnr Choppie Lindström van die NSRI geneem, waar hy op 'n heerlike warm ontbyt getrakteer is.

"As daar maar meer mense soos Choppie Lindström en sy familie was; ek is hulle soveel dank verskuldig!" aldus mnr Hansen.
Van die INGRID, 'n 8.2 meter seiljag wat in 1952 vir die eerste keer te water gelaat is, en deur mnr Hansen as 'n 'classic' beskryf is, het niks oorgebly nie. Hy het die seiljag maar vyf maande gehad en sê sy was 'n 'stewige, seevaardige bootjie'.

Uiteindelik het mnr Lindström vir mnr Hansen tot by die tolhek op die N2 geneem, waar sy vrou hom ingewag het.

Hesta, mnr Hansen se vrou, sê sy het by haar skoonma van die voorval gehoor en het onmiddellik planne gemaak om in Oesterbaai by Darrel uit te kom.

Van hierdie droom het waarskynlik niks gekom nie, maar daar is weinig keer aan Darrel Hansen.


Puin van die 8.2 meter seiljag, INGRID, was oor die strand versprei en daar was nie veel wat gered kon word nie. Foto: Rowan Jackson

ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS