Friday 10 January 2014

Meer as 20 in Meiringspoort vasgekeer

Twee vrouens en 'n kleuter word deur nooddienstepersoneel na veiligheid gebring nadat hulle Woensdagnag in Meiringspoort vasgekeer was.Inlas: Bekende filmmaker Koos Roets, verfilm die Isaacs-gesin na me. Isaacs en haar twee dogtertjies na veiligheid gebring is.Foto's: Eunice Bauermeester

 OUDTSHOORN NUUS - Nooddienstewerkers van Oudtshoorn het Woensdagnag hulle hande vol gehad om mense wat probeer het om deur Meiringspoort te ry te red.

Na swaar reën wat sedert Dinsdag geval het, het die rivier afgekom en verskeie motoriste onverhoeds betrap. Nadat die poort aanvanklik Dinsdagaand vir 'n kort rukkie gesluit was, is dit Woensdag weer oopgestel. Die rivier het egter Woensdagmiddag weer afgekom en twee vragmotors en sewe ander voertuie is vasgekeer.

Nooddienstewerkers het Woensdagmiddag teen omstreeks 17:00 gereageer op 'n oproep dat die insittendes van twee vragmotors in gevaar is en teen die rotse in die poort moes uitklim na veiligheid. Met hulle aankoms in Meiringspoort kon die noodvoertuie egter nie die mans bereik nie en hulle is met die Skymed-noodhelikopter opgepik. Die helikopter het altesaam vyf keer in die poort ingegaan en buiten die drie vragmotorbestuurders ook 10 motoriste uitgevlieg. Volgens 'n lid van die reddingspan het 14 mense verkies om by hulle motors te bly en wou nie met die helikopter uitgeneem word nie.

Die reddingsvoertuie, wat ook deur diep water verhinder is om terug te ry het gewag totdat die rivier teen ongeveer 22:00 genoegsaam gesak het om deur te ry en van die motors wat vasgekeer was kon toe ook uit die poort uitkom.

Die rivier het egter kort daarna weer afgekom en twee gesinne wat intussen wou deurry vasgekeer. Reddingspanne is om middernag terug Meiringspoort toe, maar kon weereens nie die gestrandes bereik nie.

Twee gesinne is gister teen daglig met behulp van die Skymed-helikopter na veiligheid gebring. Die bekende filmmaker Koos Roets, was juis besig om die vloed aan Klaarstroom se kant van die poort op film vas te lê toe die helikopter die ses mense na veiligheid bring.

Teen saktyd gister was die poort nog gesluit en was daar nog verskeie bestuurderlose voertuie in die poort wat nie uitgebring kon word nie. Die Stompdriftdam het ook begin oorloop en boere en inwoners wat laer af langs die Olifantsrivier woon is gewaarsku teen moontlike vloedwaters.

Volgens 'n bron was die vlak van die rivier deur Meiringspoort Woensdagnag die hoogste wat dit nog was sedert die groot vloed van 1996 toe uitgebreide skade aan die poort aangerig is.

Talle swaar vragmotors het gisteroggend buite De Rust gewag om te hoor of die poort dalk oopgemaak gaan word, maar het later die ompad oor Willowmore en Aberdeen geneem.

Teen gistermiddag was die poort nog gesluit vir alle verkeer.

Inwoners van De Rust het vroeg Donderdagoggend op 'n Facebook versoek van die Oudtshoorn Courant gereageer en broodjies en koffie aan die span nooddienstewerkers wat al sedert Woensdagaand op diens was uitgedeel.

 Bekende filmmaker Koos Roets, verfilm die Isaacs-gesin na Gail en haar twee dogtertjies se nagmerrie-ondervinding. Foto: Eunice Bauermeester.

Teen Donderdagoggend was die rivier heelwat laer, maar steeds in vloed.

ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR