Sunday 4 May 2014

Mosselbaai - Wéér waterskade in Elandslaagtelaan

Hoewel die munisipaliteit die standpunt handhaaf dat die dorp se stormwaterstelsels aan die nasionale vereistes (1:5 jaar) voldoen, is inwoners van Elandslaagtelaan in Hartenbos moedeloos met die gereelde oorstromings en gevolglike waterskade waarmee hulle met herhaalde intervalle te kampe het. Hierdie foto is op 23 April geneem. Foto: Verskaf

MOSSELBAAI NUUS - In die Mossel Bay Advertiser van 17 en 31 Januarie, is berig oor die stormwaterprobleme wat inwoners in Elandslaagtelaan, Hartenbos, ondervind.

Met die groot neerslag verlede week het inwoners van Elandslaagtelaan weer eens die frustrasie van waterskade weens, na hul mening, onvoldoende stormwaterdreinering by hul huise beleef.

In die artikel: 'Meer oor Hartenbos se stormwaterprobleme' op 31 Januarie het die Advertiser berig dat die munisipaliteit reeds talle stappe geneem het om die probleem te hanteer.

Die munisipaliteit het onder meer 'n 'soak away', oftewel sugput, aangebring en die sypaadjies hoër gemaak om die opgaar van water in die pad te probeer verhoed.

Die inwoners het in Januarie gevra dat die munisipaliteit 'n pyp-leiding na die see vir die waterafvoer moet oorweeg.

Die munisipale woordvoerder, mnr Harry Hill, het toe die voorstel as baie duur bestempel en daarop gewys dat die pypleiding hoogstens 'n vloedvoorkoms van 1:20 jaar sou kon hanteer, en nie die geraamde 1:50 jaar vloedvoorkoms soos in Januarie vanjaar ervaar is nie.

Radeloos het inwoners hierdie week foto's aan die Advertiser gestuur waarin hulle wys hoe die reën op 23 April weer stormwaterprobleme in Elandslaagtelaan veroorsaak het, en vra of die sugput en ander inisiatiewe deur die munisipaliteit werklik die probleem aanspreek.

Mnr Hill het by navraag gesê, "Die reënval van ongeveer 50mm verlede week is meer as 'n 1-in-5 jaar voorkoms.

"Dit is dus moontlik dat vloede sal voorkom."

In Januarie vanjaar het die munisipaliteit ook daarop gewys dat dele van die ou Hartenbos nie oor konvensionele stormwaterstelsels beskik nie, en bygevoeg dat "die strate byvoorbeeld nie herontwerp (is) nie, en die bestaande kontoere is gevolg.

"Die stormwatersituasie het oor die jare in intensiteit toegeneem weens die grootte van die huise wat gebou is en opritte wat geplavei is, onder andere.

"Dit het veroorsaak dat daar 'n groter en vinniger afloop van water is wanneer swaar reëns val...".

Mnr Hill het toe ook gewys op die verantwoordelikheid wat op beplanners, eienaars en ontwikkelaars berus om voorsiening te maak vir die mitigering en hantering van stormwaterprobleme.

ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS