MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se bekende landmerk, die St Blaize
ligtoring, het op Saterdag, 15 Maart sy 150ste verjaarsdag gevier.
Aangesien die Mosselbaai hawe in 1860 verbeter is om aan die invoer- en
uitvoerbehoefte van die streek te voorsien, is die versoek vir ’n
ligtoring in Mosselbaai in 1861 deur die Mosselbaai Hawe Raad aan die
Kaapse regering gerig. Die Britse regering van daardie tyd het egter die
versoek geweier, aangesien hulle onder die indruk was dit die ligtoring
slegs die hawe sou bedien.
Die bou en instandhouding sou deur die Kaapse regering gedoen moes word
en aangesien daar ten tye van die versoek baie probleme op die Oos-Kaap
grens was, sou die Kaapse regering nie nog die ligtoring ook kon
onderhou nie.
Daar was egter genoeg seevaartbedrywighede om ’n ligtoring te regverdig
en in 1862 is kontrakteur John Goodman gehuur om die ligtoring en
kwartiere te bou vir £927.
’n Lig is bestel vanaf Wilken & Kie in Engeland vir £550 en was
ontwerp om in gunstige weersomstandighede vir 15 myl sigbaar te wees.
Bouwerk het in Oktober 1862 begin.
Die lig is amptelik vir die eerste keer gebruik op 15 Maart, 1864. Die
ligtoring is beman deur ene John Armstrong en hy het sy werk verrig vir
£90 per jaar.
Verskeie ligte is, soos wat die tegnologie verbeter het, geïnstalleer en
die eerste elektriese lig is op 6 April 1933 geaktiveer. Die lig is met
afstandbeheer vanaf die kontrolekamer beheer, maar die bemanning moes
die trappe uitklim om die klokwerk met die hand te gaan opwen. ’n Motor
is eers in 1970 geïnstalleer om die werk te verrig.
Die eerste mishoring is op 15 Mei 1915 geïnstalleer en die eerste radiotoring op 6 Januarie 1959.
Cape St Blaize ligtoring was ’n baie gewilde basis om by te werk. Meeste
ligtorings was op verafgeleë eilande waar personeel baie afgesonderd
was. Hier kon die personeel se vroue egter ook werk en vir die publiek
was dit natuurlik ’n gewilde plek om te besoek.
Daar is ’n donasiehouertjie geplaas vir fooitjies aan die opsigter wat
mense rondgewys het en ’n dagboekinskrywing toon dat in Junie 1933 die
bedrag van 2/6d in die houer was nadat 750 mense die ligtoring besoek
het!
Vandag is die toring ten volle outomaties en word beman deur een senior en nog twee personeellede.
Die vierkantige wit toring is 20.5m hoog en staan 73m bokant seevlak.
Die huidige elektriese mishoring is op 24 Julie 1989 geïnstalleer. Die
450 000 CD lig bereik 22 seemyl en flits twee maal elke 15 sekondes. Die
posisie van die ligtoring is 34.11.10 grade Suid en 22.09.25 grade Oos.
Die terrein word netjies onderhou en die ligtoring is, afgesien van ’n
waarskuwing vir die skeepvaart, die trots van Mosselbaai.
Besoekers is welkom om die ligtoring te besoek op weeksdae, tussen 10:00
en 15:00. Toegang tot die ligtoring is moontlik teen ’n minimale fooi.
ARTIKEL: TERSIA MARAIS - Mossel Bay Advertiser
Weather and Disaster related posts relating to the Western- and Southern Cape Areas. Also some interesting worldwide weather,disaster and space weather/mission posts at times.
Pages
- Home
- Disclaimer/Indemnity: Mossel Bay Weather 2013
- SCP/Garden Route Private WX Stations
- SCP/Garden Route Webcams
- SA Historical WX and Disaster Events
- Interactive WX Map: SCP/Garden Route
- WX Prediction: Mossel Bay, George, Knysna, Plett and Oudtshoorn
- DIY Weather and Disaster Projects Page
- Upper Level Sigwx Chart