Saturday 8 March 2014

Rooigety in Mosselbaai

Rooigety is in die baai opgemerk op Woensdag, 5 Maart. Foto: Verskaf

MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaiers word gewaarsku om nie skulpvis vars uit die see te eet terwyl die rooigety voortduur nie. Op Woensdag, 5 Maart, is rooigety veral baie duidelik in die baai opgemerk.

Tog sorg die rooigety snags vir 'n skouspel van fosfor-liggies op die branders. Fosforliggies is 'n algemene verskynsel wat saans tydens rooigety gesien kan word wanneer die branders breek.

Rooigety word gewoonlik veroorsaak deur verskeie spesies mikroskopiese, eensellige alge, oftewel dinoflagellate. 'n Toename in hierdie eensellige alge veroorsaak dat die suurstof in die water gou opgebruik word, wat daartoe lei dat baie visse doodgaan.

Rooigetye kom in warm oseane en in kalm kuswaters voor, gewoonlik die tyd tussen die einde van die warm maande en die begin van die reënseisoen.

Dit kan 'n paar uur tot etlike maande duur, afhangende van heersende toestande in die gebied.


- Mossel Bay Advertiser