Thursday 9 January 2014

Opvolg: Fotos en Artikel - Meiringspoort-sluiting

OUDTSHOORN NUUS - Reddingswerkers is gistermiddag omstreeks 17:00 na Meiringspoort nadat hulle berig gekry het dat drie trokdrywers in die poort vasgekeer is en teen die rotse moes uitklim vir veiligheid.

Die drie persone is per helikopter uitgehaal. Die helikopter het ook 10 motoriste uit die poort gehaal. Daar was nog 14 persone wat verkies het om by hulle voertuie te bly.

Nadat die rivier later gisteraand gesak het, kon hulle uitry.
Die rivier het egter teen 22:00 weer begin styg en verkeie motoriste wat die borde geïgnoreer het, is teen middernag weer in die poort vasgekeer.

Reddingswerkers is op die oomblik op die toneel en wag op die helikopter om in te vlieg en te bevestig hoeveel persone nou in die poort vasgekeer is.

Met die Oudtshoorn Courant se besoek vanoggend net na 06:00 was die rivier nog in vloed maar besig om te sak.


Aanduidings volgens opdrifsels was dat die rivier ten minste twee meter hoër gevloei het as vanoggend om 06:00.


Die rivier vloei sterk weens die erge reën.

ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR