Friday, 17 January 2014

Mosselbaai: Trokbestuurder ontvlug vloedwaters

'n Mosselbaaise vragmotorbestuurder moes vlug vir die vloedwater deur Meiringspoort verlede week. Hier is 'n foto wat hy geneem het van sy vragmotor, geparkeer agter 'n ander, tydens die insident Beeldmateriaal hiervan is ook op SABC-nuus uitgesaai op 9 Januarie. Foto: Verskaf 

MOSSELBAAI NUUS - 'n Plaaslike vragmotorbestuurder het 'n noue ontkoming gehad toe sy voertuig tydens onlangse oorstromings in Meiringspoort deur vloedwater meegesleur is.

Die vragmotorbestuurder, wat verkies om anoniem te bly, bestuur al meer as 20 jaar lank swaar voertuie en is ongeveer die afgelope 18 maande in diens van Unitrans, gemoeid met die vervoer van brandstof.

Op Woensdag, 8 Januarie, onderweg terug vanaf Beaufort-Wes na Mosselbaai nadat die vrag reeds afgelaai was, is die voertuig om ongeveer 18:00 duskant Klaarstroom net voor Meiringspoort deur die SAPD gestop, omdat die pad vir vloedgevaar gesluit was.

Beeldmateriaal van die insident is op 9 Januarie op SABC-nuus uitgesaai, waartydens die stilstaande vragmotor en dreigende vloedwater duidelik sigbaar is. Volgens berigte, is minstens 14 mense uit Meiringspoort gered tussen Klaarstroom en De Rust nadat hulle deur vloedwater vasgekeer is.

"Drie vragmotors en verskeie motorvoertuie is gestop. Ek het etlike ure in my vragmotor gewag vir verdere nuus oor die stand van die vloedwater," vertel die bestuurder.

Teen ongeveer 23:00 het die watervlak egter so vinnig gestyg dat die vragmotor nie vinnig genoeg na veiligheid geskuif kon word nie. "Ek moes letterlik ongeveer 'n 1km padlangs weghardloop om nie self deur die vloedwater verswelg te word nie."
Hy het skuiling gevind by die SAPD-kantoor op Klaarstroom en die res van die nag daar deurgebring.

"Toe ons die volgende oggend gaan kyk, het my vragmotor ongeveer 200m van waar ek dit gelos het, gespoel. Boonop het die krag van die vloedwater die vragmotor gedraai sodat die voertuig se neus in die teenoorgestelde rigting gewys het as waarheen ek op pad was terug Mosselbaai toe."

Hy vertel dat die vragmotor se ligte vol gras en opdrifsels gespoel het en die stuurkajuit was vol grond en klippe.

"Ek kon darem by die kajuit uitkom om my paar persoonlike items te verwyder. Ek dink egter ek ly nou nog aan skok na die petalje."

Hy meen dat die vragmotor erg beskadig is tydens die insident. Die omvang van die skade is egter nog nie bevestig deur Unitrans se kantoor in Kaapstad nie.

- Mossel Bay Advertiser