Thursday 9 January 2014

Droogte: Noodroep vir voer

SUID-KAAP LANDBOU NUUS - Boere wat voer kan skenk om mede-boere in die droogtegeteisterde gebiede van die land Noordwes te help oorleef, moet dringend na vore kom.

Voer bestem vir Noordwes, sal met vragmotors vervoer word totdat ‘n gratis treindiens hopelik voor die einde van die maand voer na Noordwes, die Noord-Kaap en die Vrystaat sal vervoer.

“Ons kan nie wag vir die trein nie,” het Boeta du Toit, voorsitter van Agri Noordwes, vroeër die week gesê. “Die situasie is benard. Elke vrag hoë-waarde voer ry ons aan solank ons geld het vir vervoer.”

Sedert Desember is sowat 150 ton lusern vanuit die Klein Karoo per vragmotor na Noordwes se droogterampgebiede vervoer waar dit aan boere uitgedeel is. Die vragmotorvervoer word befonds uit skenkings wat Noordwes van die publiek af kry.

Die uitgestrekte Noordkaap is in Desember 2013 as droogterampgebied verklaar. Volgens Johan van Rensburg, bestuurder van Agri Noord-Kaap, is die voortslepende droogte volgens opgetekende reënvalsyfers vergelykbaar met die droogte van 1932/33.

“Dit het op plekke gereën, maar vee- en wildboere in die gebied suid van die Oranjerivier word die ergste geraak,” het hy gesê. Lusern kos tot R2000 per ton. Melkboere kry ook swaar.

In sowat 20 distrikte in veral die westelike- en suidelike Vrystaat het die droogte rampafmetings aangeneem, het Henk Vermeulen, bestuurder van Agri Vrystaat, gesê.

Transnet het ‘n treindiens beskikbaar gestel vir vervoer vanaf die Wes-Kaap na die droogtegebiede. “Sodra ons weet hoeveel voer uit die verskillende gebiede geskenk word, kan Transnet bereken hoeveel trokke by elke oplaaipunt verskaf moet word,” het Johan Coetzee, kantoorhoof van Gerrit van Rensburg, Wes-Kaapse minister van landbou, gesê.

Boere in die Overberg-distrik kan hul geskenkte voer besorg by Rietpoel-stasie naby Caledon, terwyl boere in die Langeberg-gebied hul voer by Swellendam-stasie kan besorg.

Boere in Eden kan hul geskenkte voer by Camfer-stasie op Herold besorg. “Ons sal help om die voer op die trokke te laai,” het Jan Weys, hoofbestuurder van Tuinroete Agri.

Volgens Carl Opperman van Agri Wes-Kaap, wat die voerhulp koordineer, is alle voer en voerreste is welkom.

Boere wat lusern, garsbale of voerreste kan skenk, moet asseblief voor 10 Januarie met Tisha Steyn kontak maak by 084 581 9512 of tishasteyn20@gmail.com.

- Knysna-Plett Herald