Thursday 9 January 2014

Damme loop oor, riviere kom af

LANDBOU NUUS - Boere langs riviere in die Klein Karoo word gewaarsku om vee en toerusting uit laagliggende gebiede te verwyder nadat wydverspreide reën oor ‘n groot gebied uitgesak het.

Die Stompdrifdam by De Rust het vanagoggend begin oorloop, het George van Biljon, hoof uitvoerende beampte van die Stompdrift- Kammanassie Landelike Waterskema vanoggend gesê. “Die Stompdrifdam is 100% vol en loop oor. Na verwagting gaan nog water uit die Olifantsrivier in die dam vloei na swaar reëns in die Willowmore-omgewing.”

Die Kammanassiedam sal na verwagting ook vanmiddag begin oorloop.

“Boere onderkant die twee damme langs die Kammanassie- en Olifantsrivier moet sorg dat hul vee en toerusting uit die vloedvlakte verwyder word,” het Van Biljon gewaarsku.

Meiringspoort is gistermiddag gesluit nadat die rivier afgekom het. “Van die motoriste wat in die poort vasgekeer is, is per helikopter na veiligheid gebring,” het Gerald Becker, hoof van Provinsale Verkeer op Oudtshoorn gesê.

“In ‘n stadium het die watervlak begin daal en ons het gedink ons sal die poort kan oopmaak, maar toe kom daar nog water af. Die poort gaan nog lank toe wees.”

Becker het motoriste gewaarsku om uiters versigtig te wees wanneer ‘n laagwaterbrug oorgesteek moet word. “Laagwaterbrûe oor die Olifantsrivier gaan waarskynlik onbegaanbaar wees, veral omdat nog water van die anderkant van die Swartberge op pad is. Motoriste moet liefs grondpaaie vermy waar moontlik. Moenie oorstroomde laagwaterbrûe oorsteek nie want mens weet nie of die struktuur beskadig is en hoe diep die water oor die laagwaterbrug vloei nie,” het hy gewaarsku.

Intussen het die eienaars van die Village Trading Post en privaatpersone op De Rust vir nooddienswerkers by die ingang na Meiringspoort eet- en drinkgoed gevat.

Die Floriskraaldam by Laingsburg was teen gistermiddag 176.22% en die Gamkapoortdam 112.32% vol.

ARTIKEL: TISHA STEYN - Mosselbaai Advertiser