Saturday 7 December 2013

Mosselbaai: Brand verswelg sewe huise

Al wat oorgebly het van sewe strukture, wat 20 mense gehuisves het, na 'n verwoestende brand op Dinsdagaand, 3 Desember. Foto: Dave van der Merwe

MOSSELBAAI NUUS - Op Dinsdagaand, 3 Desember, omstreeks 18:00, het sewe informele strukture in JCC Kamp, Mosselbaai afgebrand. Ten minste 20 mense is in die proses dakloos gelaat.

Met die Mossel Bay Advertiser se besoek, het die wyksraadslid, me Nokulhula Malilwana (ANC), en die ANC Sweep in die Mosselbaai Munisipale Raad, mnr Stanford Mbandezi, die gesinne bygestaan. Raadslid Malilwana het Dinsdagaand reeds die gesinne gehelp om noodleniging by die plaaslike brandweer te kry.

Volgens mnr Johnathan Oktober het hulle bewus geraak van rook, maar het gedink dit kom van bure wat motorbande verbrand. Die wind het op daardie stadium die rook weggewaai van die huise.


"Oomblikke daarna het die rook baie donkerder geword, en het ek uitgegaan om te kyk wat gaan aan. Ek het gesien die huis langs my brand en my vrou en kinders gehelp om uit ons huis na veiligheid te vlug," het mnr Oktober bygevoeg. Die wind het van rigting verander en die vlamme het na naasliggende strukture versprei.

Die sewe strukture is totaal vernietig en omstreeks 11:00 op Woensdag, 4 Desember, het die brand nog plek plek gesmeul.
Formele huise het ook in die brand skade gely, met ruite wat weens die hitte gekraak het, kragvoorsiening wat onderbreek is en afleipype wat weens die erge hitte gesmelt het.

"Ons doen 'n beroep op die Mosselbaai gemeenskap om in die gees van Kersfees hierdie gesinne by te staan. Enige bydraes, hetsy klere, nie-bederfbre kos, meubels of beddegoed sal van onskatbare waarde vir hierdie gesinne wees," het Raadslid Mbandezi benadruk.

Die munisipale woordvoerder, mnr Harry Hill, het bevestig dat die Munisipaliteit in gevalle noodleniging aan sogenaamde onwettige plakkers verleen. "Al wat die betrokke persone moet doen, is om by die munisipaliteit se behuisingskantoor aansoek om hulp te doen, en hulle sal van basiese materiaal vir die oprigting van 'n nuwe hut voorsien word.

'n ID-dokument is nodig vir die doel. Mense wat op private eiendom plak, kwalifiseer egter nie".

Mnr Hill het bygevoeg dat kospakkies en komberse is in hierdie geval aan die inwoners gegee is.

Enigiemand wat van hulp kan wees, word versoek om Raadslid Nokulhula Malilwana by 078 310 3366 te kontak.

ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS