Friday, 26 September 2014

Suid Kaap Nooddienste toegerus vir noodgevalle

'n Reddingswerker word uit die EMS-reddingshelikopter gesak tydens 'n reddings-oefening.

EDEN DISTRIK NUUS - Hulle is die eerste mense wat jy kontak wanneer daar 'n noodgeval is en bedien die Eden-distrik 24 uur, 365 dae per jaar.

Metro-nooddienste wil hê inwoners in Eden moet gerus voel dat hul paramedici en reddingswerkers goed opgelei en toegerus is om enige noodgeval, in samewerking met ander nooddienste soos die brandweer, polisie, die nasionale seereddingsinstituut (NSRI) en ander rolspelers te hanteer.

Die Wes-Kaapse mediese noodreddingsdienste bestaan uit vier komponente: die kommunikasiesentrum, ambulansdiens, reddingdienste en beplande vervoer.

Richard Botha, reddingsbestuurder in die Eden-distrik, sê kommunikasie is die hantering van die noodoproep na hul noodnommer 10177, die ambulansdiens behels die vervoer van pasiënte, reddingswerk sluit in die bevryding en redding van beseerde pasiënte en hul beplande vervoerstelsel behels die vervoer van pasiënte tussen die hospitale en ook van die verskillende dorpe na George en Kaapstad.

Die span, wat deur Botha gelei word, is goed opgelei en bestaan uit 12 reddingsafdelings waaronder andere motorvoertuigredding, waterredding, soek- en seeredding, geboue of strukture wat in mekaar stort en die redding van 'n pasiënt met 'n helikopter. Die Skymed 2, die mediese reddingshelikopter van EMS, is verantwoordelik vir die redding en vervoer van pasiënte. Lede van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is ook deel van die waterreddingspan.

Vir alle noodgevalle kan die publiek die noodsentrum skakel by 10177 en die NSRI 082 990 5955 vir enige seereddings en moontlike verdrinkings.

Wanneer persone 'n ambulans benodig is die volgende inligting belangrik:

  • Wat is die noodgeval
  • Naam en van van oproeper
  • Adres waar die ambulans benodig word
As die noodgeval in 'n informele nedersetting is, is dit belangrik om 'n punt wat bekend is naaste aan u huis te noem om sodoende te help dat die ambulans vinniger by die nood geval kan uitkom.
'n Telefoonnommer sodat u gekontak kan word indien die ambulans nie die adres kry nie of meer inligting benodig word.

Wenke vir noodgevalle

Indien u die ambulans skakel moet u kalm bly en alle vrae van die operateurs beantwoord.

Indien noodvoertuie met hul rooi ligte en sirenes op pad is moet u sover moontlik, en as dit veilig is om so te doen, pad gee vir die noodvoertuig deur na die linkerkant te beweeg sodat die voertuig u aan die regterkant kan verby gaan.

Indien u op 'n ongeluk afkom, is die inligting soos bo gemeld belangrik. Hoeveel mense is betrokke in die ongelukke, is enige van hulle nog binne voertuig, reageer hulle of is hulle bewusteloos en ook of hulle dalk vasgepen is, is van die inligting wat u aan die operateurs kan deurgee.

Moenie persone uit die voertuig haal behalwe in die geval wanneer die voertuig aan die brand is of daar 'n moontlike brand kan ontstaan nie.


Die bergreddingspan oefen op 'n maandelikse basis met die reddingshelikopter om 'n professionele, kwaliteit diens in tye van nood te lewer. Hulle het ook onlangs met die vlieëniers hul naglanding-oefensessies suksesvol afgehandel. Foto: Lizette da Silva

- George Herald