Brandbestryders van Working on Fire bestry die vuur op die Swartbergpas.
OUDTSHOORN NUUS - Ongeveer 200 brandbestryders moes Maandag inspring om
12 brande rondom Oudtshoorn en George te blus. Die brande is Maandag
tydens hewige donderstorms deur weerlig veroorsaak.
Volgens Gerhard Otto, hoof van rampbestuur in die Eden-distrik, het die
brande laat Maan-dagmiddag begin en is brandbestryders van Oudtshoorn-
en Eden-brandweer, CapeNature, Working on Fire en Cape Pine ingeroep om
te help.
Baie van die mense moes te voet die berge in om die brande te bestry.
"Ons het geweet dit gaan Dinsdag reën, maar ons moes steeds hard werk om
die vure geblus te kry omdat dit so maklik kon hand uit ruk. Die
brandbestryders is goed opgeleide mense en het hulself uitstekend van
hul taak gekwyt," het Otto gesê.
In die George-distrik het die weerlig brande by Waboomskraal by die
Outeniquaberge, Groot Jonkersberge en Attakwaskloof gestig. Nader aan
Oudtshoorn het die brande oor die Swartberge gehardloop.
Brandbestryders moes op 'n stadium bont staan om vyf brande wat hier
uitgebreek het te blus. Verder is Leeublad by die Kammanassieberge, die
Dysselsberge, Matjiesrivier en Gamkaskloof ook deur die brande geraak.
"Die plekke waar dit die gevaarlikste was, was Waboomskraal, Leeublad en
Matjiesrivier. Daar was op 'n stadium 60 brandbestryders in
Matjiesrivier om brande te blus. Dit is die areas waar mense die meeste
in gedrang kon wees.
"Ook Geelhoutvlei Timbers is as 'n gevaararea gesien omdat die vure op
'n stadium baie na aan die gebied gebrand het," het Otto gesê.
Die vure is teen Dinsdagmiddag almal geblus nadat reën ook oor die gebied uitgesak het.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
- Oudshoorn Courant