Tuesday 24 March 2015

Greyhound bus vasgekeer in Meiringspoort





08:17 (GMT+2), Tue, 24 March 2015  - OUDTSHOORN NUUS - Die Greyhound-bus waarop 18 mense laasnag in Meiringspoort buite Oudtshoorn vasgekeer was, sal vanoggend deur 'n insleepdiens verwyder word.

Die insittendes van die bus het deur vensters van die boonste verdieping geklim en op die krans geskuil toe die watervlak vinnig gestyg het.

Hulle kon teen middernag, nadat die water weer gesak het, terugklim in die bus waar hulle op nooddienste gewag het.

Twee polisielede en bestuurders van ten minste drie ander swaar voertuie was ook vasgekeer.

Die twee insittendes van 'n groen Golf, waaroor mense laasnag navraag gedoen het, is ook veilig. Dit blyk dat die motor naby die plek waar die bus en ander swaar voertuie vasgekeer is van die pad afgespoel is. Die insittendes is deur nooddienstewerkers gered. Een van die insittendes is in die hospitaal.

Volgens verkeersowerhede sal die poort nog 'n geruime tyd gesluit wees


22:48 (GMT+2), Mon, 23 March 2015 - OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Courant het pas verneem die bus-passasiers kon van die rotse afkom en terugklim in die bus nadat die watervlak heelwat gesak het.

Die nooddienste in De Rust het pas 'n vergadering gehou en besluit dis nog nie veilig om van De Rust se kant by die bus uit te kom nie.

Op hierdie stadium lyk dit asof Metro-nooddienste van Beaufort-Wes se kant af 'n beter kans het om by die bus uit te kom.

Die nooddienste het bevestig dat hulle vanaand heel aand op die toneel gaan bly totdat dit veilig is om die mense van die bus af te haal.

Meiringspoort sal beslis die res van die nag en waarskynlik heel dag môre gesluit wees.
21:53 (GMT+2), Mon, 23 March 2015 - OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Courant het onlangs sowat 1km vanaf De Rust saam met nooddienste tot by die eerste brug in Meiringspoort gery.

Die vlak van die rivier is sowat 'n meter bo oor die brug en ongeveer 35m breed.

Dit lyk asof die vlak die afgelope uur effens gesak het, maar nooddienswerkers kan steeds nie deur die drif gaan om by die vasgekeerde bus uit te kom nie.
Daar is vasgestel dat die bus by die laaste drif aan die Klaarstroom-kant van Meirngspoort vas.
Die mense op die bus het laat weet hulle kan noodligte sien wat van Beaufort-Wes se kant af na hulle kom, maar dis nog nie duidelik of daardie nooddienste by hulle kan uitkom nie.
Dis onduidelik of al 18 passasiers uit die bus is, maar volgens een van die Greyhound-personeel, wat via radio met nooddienswerkers in kontak is, het die watervlak gedaal en is almal veilig. 
21:13 (GMT+2), Mon, 23 March 2015 - OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Courant is op die oomblik op die toneel in Meiringspoort.

Die Grootrivier loop tans ongeveer 30m breed in volle vloed.

Daar is bevestig dat 9 van die 18 passasiers van die Greyhound-bus daarin geslaag het om op die bus se dak te klim en van die dak af tot op kranse. Hulle is buite gevaar maar is vasgekeer en nooddienswerkers kan nie by hulle uitkom nie. Die ander 9 passasiers is steeds in die bus.
Vier polisiemanne is ook vasgekeer.

Dit reën steeds.
20:47 (GMT+2), Mon, 23 March 2015 
Oudtshoorn - Nooddienste het pas by Meiringspoort aangekom nadat hulle in kennis gestel is dat 'n passasiersbus en verskeie ander voertuie in die poort vasgekeer is nadat die rivier in vloed afgekom het.
Die bus is in 'n drif vasgekeer en passasiers is besig om op die dak te klim. Nooddienswerkers sukkel om by die bus uit te kom as gevolg van die hoë watervlak.
Van die ander voertuie wat vasgekeer is, is 'n swaar vragmotor en 'n polisievoertuig.
'n Vragmotor het ook in die rivier omgeslaan. Die bestuurder is nie beseer nie.
Dit het intussen weer begin reën.
Die pas is gesluit en sal die hele nag gesluit bly. Motoriste moet Willowmore om ry vanaf De Rust.

- Oudtshoorn Courant