Sunday 24 November 2013

Heidelberg Wes-Kaap: Slangrivier eis 'n lewe: 15 - 18 November 2013

SLANGRIVIER NUUS  - Die swaar reën oor die afgelope naweek het sy tol geëis toe die Slangrivier in volle vloed 'n bejaarde man meegesleur het.

Die slagoffer, die 59-jarige Louis (oom Plan) Fredericks het glo die rivier by die laagwaterbrug probeer oorsteek toe hy deur die sterk vloeiende water meegesleur is en verdrink het. Volgens omstanders op die toneel het 'n groot rots in die rivier verhoed dat Fredericks verder die die rivier af meegesleur word toe sy liggaam teen die rots vasgehaak het. 'n Inwoner wat verkies om anoniem te bly en in die omgewing woon, vertel dat hy in sy agterplaas was toe hy die man by die brug gesien stap het. Na 'n ruk het hy opgemerk dat iets in die water dryf en by nadere ondersoek die liggaam op die rots gesien.

Volgens 'n kleinniggie van Fredericks, Juanita Marais, het die oorledene vroeër op Vleidam by haar ouma (sy suster), gekuier en haar aanhoudend gegroet en bedank vir alles wat sy vir hom beteken het. "Hy het seker drie keer teruggedraai en my bedank en gegroet," vertel 'n hartseer Marais. Hy sou blykbaar die naweek na sy ander suster op Caledon gaan, maar het nie 'n ryloop geleentheid langs die pad gekry nie.

Die voorval het kort voor 17:00 gebeur, maar die liggaam is eers teen 20:30 met behulp van reddingsgereedskap teen die steil en gevaarlike rand uitgebring. Die uiterste nat toestande het ook nie sake vir die polisie en ander rolspelers vergemaklik nie.
Onbekende liggaam gevind

Intussen is die polisie ook laat Saterdagmiddag, terwyl hulle op die toneel in Slangrivier was, deur 'n plaaslike boer in kennis gestel van nog 'n liggaam wat langs die water by Sebastiaanbaai, naby Puntjie by Vermaaklikheid ongeveer 25 km buite Heidelberg lê. Met hul aankoms het hulle op die liggaam van 'n onbekende man afgekom. Daar is nog geen verdere inligting oor die voorval of die persoon bekend nie. Volgens die plaaslike polisie skakelbeampte, a.o. Alroy Windvogel, het hulle aanvanklik gedink dat dit die liggaam van die vermiste kleuter, Michelle Tities (5) was wat op 1 November in die Duivenhoksrivier by Doornkraal verdrink het. Haar liggaam is nog nie gevind nie.

* Windvogel doen 'n dringende beroep op enigiemand wat 'n famielielid of vriend vermis, om dadelik sp. sers. Andries Olivier by 083 448 1904 te kontak.

* IN SHORT
A man residing at Slangrivier, Louis Fredericks (59) drowned while trying to cross a low water bridge during the inclement weather and heavy downpour over the past weekend. After an extensive search, his body was recovered by the police. In a separate incident, a farmer informed the police of a second body of a man which was found at San Sebastiaan Bay near Puntjie. Currently the identity of the the deceased is unknown. Any person missing a family member or friend can contact Sgt. Andries Olivier on 083 448 1904.


- Suid Kaap Forum