Sunday 24 November 2013

Hessequa: Minimale skade met stormvloed: 15 - 18 November 2013

Laerskool Volschenk se tennisbane en skoolgronde was ook onder water. Foto: Grové Koch. 

HESSEQUA NUUS - Danksy die implementering van voorsorgmaatreëls van Hessequa munisipaliteit en die vroeë waarskuwings van die weerdiens, is die skade van die stormvloed wat die Hessequa-streek die afgelope naweek getref het tot die minimum beperk.
Beskryf as 'n 1:50 tot 100 jaar storm is dit wonderbaarlik dat die skade in die streek so minimaal is.

Die gemeenskap is vooraf gewaarsku oor die moontlike vloede weens swaar reëns en wenke is deurgegee sodat voorsorgmaatreëls getref kon word.

Ontruimings en skade

Susan Vosloo, Hessequa woordvoerder noem aan Suid-Kaap FORUM dat Hessequa rampbestuur die afgelope naweek hulp verleen het aan gestrande gesinne en individue sonder heenkome nadat hul eiendom weens oorstromings beskadig is.

"Talle dorpe in die streek is deur oorstromings geraak". 'n Helikopter is na die Bergfontein-streek naby Albertinia ontplooi waar 18 mense vasgekeer was. Die helikopter is volgens Vosloo ook aangewend deurdat dit op vier plekke in die streek geland het om kospakkies uit te deel en hulp te verleen. Daar is ook 20 mense by die Steg in Riversdal ontruim en in Riverville saal gehuisves waar hulle van kos, komberse en matrasse voorsien is. Inwoners van Slangrivier is ook van komberse, seile, kos en matrasse voorsien. "Rampbestuur het sandpakke en seile aan inwoners van Stilbaai en Riversdal voorsien wie se eiendom beskadig is".

Voorsorg getref
Hessequa munisipaliteit se tegniese departement het alle moontlike voorsorgmaatreëls getref danksy die vooraf swaar reën waarskuwings. Ongeveer 130mm reën is voorspel en 'n vooraf-skoonmaakaksie is geloods om die hoof stormwaterkanale- en pype skoon en oop te maak.

Die intensiteit van die reënval het veroorsaak dat stormwater nie onmiddelik weggevloei het nie. Die ondergrondse hoof stormwaternetwerk word ontwerp vir 1 in 5 jaar stormwater herhalingsperiodes en die reënval die afgelope naweek kan geklas word as 'n 1:50 tot 100 jaar storm. Stormwater kon egter redelik binne 'n dag wegvloei, wat 'n aanduiding is dat die netwerke goed vertoon.

"Op die stadium kon geen noemenswaardige vloedskade opgemerk word behalwe die gevalle van gruisstrate en sypaadjies wat uitgekalwe het, damme wat vinnig volgeloop het, stormwaterpype wat toegeslik was en takke en opdrifsels wat voorgekom het".


Water by die Steg in Riversdal loop sterk. Foto: Elize Blom.

Vloed Fotos:

Goukourivier in Vloed

Dagbreek tussen Albertinia en Riversdal

Riversdal Vloed Fotos 

 

- Suid Kaap Forum