Sunday 24 November 2013

Riversdal: Kanaal tuimel in weens vloedwater : 15 - 18 November 2013

 Daar is groot skade aan die kanaal na die afgelope naweek se vloedwaters. Op die inlaste van bo na onder kan die presiese omvang van die skade gesien word. Foto's: Louise Mouton.

RIVERSDAL NUUS - 'n Kanaal wat 36-jaar gelede in 1977 gebou is in Oslerstraat, het die afgelope naweek weens die erge stormwater en reënval ingetuimel.

Volgens die erf-eienaar, mnr. Kitty van Schalkwyk was die hele erf onder water en kon die kanaal nie al die water keer nie. Daar word vermoed dat erosie die oorsaak kon wees dat dit ingetuimel het. Dit is ook die eerste keer in al die jare wat die water so erg afgekom het dat die kanaal dit nie kon laat wegvloei nie.

By navraag aan mnr. Johan Jacobs, munisipale bestuurder rakende die skade, het hy gesê dat die munisipaliteit bewus is van die skade aan die stormwaterkanaal in die dorp wat tydens die erge reën veroorsaak is.

"Die betrokke erf-eienaar het die munisipaliteit van 'n skrywe voorsien en die terrein is reeds op Maandag, 18 November besoek. Die herstelwerk is deel van die totale herstelwerk wat so spoedig moontlik uitgevoer sal word". Hy noem verder dat sommige van die strukturele skades by die raad se versekeraars aanhangig gemaak word, sommige by 'n moontlike eis vir ramp-noodfondse en ander word uit die normale instandhoudingsprogram herstel.

"Die skade wat die grootste negatiewe impak op die ander infrastruktuur, natuur of mense kan hê sal uit die aard van die saak eerste aandag geniet".

- Suid Kaap Forum