Sunday 24 November 2013

Groot skade na storm op Mosselbaai - 16 November 2013



Foto: Mosselbaai Advertiser

MOSSELBAAI NUUS - Weens swaar reën die afgelope naweek het riool op 'n Danabaai strand beland. Boonop soek 'n sakeman van die middedorp kompensasie van die munisipaliteit weens skade aan sy winkelsentrum wat hy toeskryf aan onvoldoende stormwaterdreinering in Georgeweg.

Die munisipale woordvoerder, mnr Harry Hill, berig dat dit nie nodig was om enige gemeenskappe te ontruim nie. "Geweldig baie reën het oor ‘n baie kort tydperk geval, sowat 60mm tot 80mm binne vier uur, en die intensiteit van die storm het die munisipale stelsels onder groot druk geplaas.

Bekommerde inwoners het die vrees uitgespreek dat die stormwater- en rioolstelsel in Mosselbaai óf nie die omvang van stormwater kan hanteer nie, óf nie gereeld genoeg skoongemaak word nie, en dus tot oorstromings bydra.

"Stormwaterstelsels in residensiële areas word ingevolge nasionale riglyne vir die voorsiening van ingenieursdienste en geriewe vir residensiële dorpsontwikkeling vir ‘n 1:5-jaar vloedherhalingstydperke gebou. Mosselbaai se stormwaterstelsels voldoen aan die nasionale standaard. Die naweek se vloede het die 1:5-jaarperk ver oorskry. Behalwe dat tradisionele klimaatspatrone dit nie regverdig nie, sou dit geweldige koste-implikasies vir behuisingsowerhede en dorpsontwikkelaars inhou om die vloedherhalingstydperk hoër te maak vir stormwaterstelsel-ontwerpe."

Nautica

By die Nautica woonstelle langs Louis Fourieweg by De Bakke het die personeel se vinnige optrede bygedra dat inwoners betyds hul motors van die geplaveide parkeerarea waar stormwater groot skade aangerig het, kon verwyder.
"Daar was ‘n verstopte drein naby Nautica, maar dit is dadelik opgeruim," sê mnr Hill.

Volgens 'n inwoner, mnr Jaco Vollgraaff, het sterk water en opdrifsels hul taak bemoeilik om die voertuie te beveilig.
"Ek het opdrifsels wat uit die drein gespoel het, begin verwyder. Groot klippe, motorbande en ander rommel het daar uitgekom. Dit is verstommend; daardie pyp is sowat vyf meter diep en die water lig klippe van tot sowat 20kg daaruit. Die swaar ysterdeksel van die stormwaterpyp is 15 meter van die uitlaat weggespoel," sê mnr Vollgraaff.

Rhapsody Woonstelle

In Danabaai het die Rhapsody woonstelle vir die tweede keer in twee jaar ernstige vloedskade gely. 'n Inwoner berig sy het omstreeks 08:00 'n harde slag gehoor voordat water deur haar woonstel begin stroom het. Water en riool het enkeldiep reg deur haar woonstel, 'n dubbelverdieping fasiliteit, gestroom.

Die eienaar van die woonstel direk langsaan, mnr Karel Kruger, sê hy het sowat R100 000 skade gely toe stormwater en riool halflyf deur sy woonstel gestroom het.

"Die stormwater het die voordeur na my woonstel oopgeforseer, en die glasskuifdeur van een van die slaapkamers is heeltemal uitgeruk. Dit het op die gras voor die woonstel gelê. Water en riool het groot skade aangerig."
Tydens die Mossel Bay Advertiser se besoek op Dinsdag, 19 November, het stukke ontlasting voor die woonstelle gelê. Riool het deur die woonstelle gestroom tot op die strand direk daaronder.

Volgens omstanders word riool na die pompstasie in P Cynaroidesweg, skaars 100 meter van die woonstelle, afgevoer.
"Wanneer die waterdruk by die pompstasie te hoog word, kry die munisipaliteit 'n waarskuwing en moet die riool na 'n naasliggende pompstasie herlei word. Dit kom voor dat die oorskakeling nie plaasgevind het nie, en riool en stormwater het blykbaar daarom in die stormwaterstelsel opgestoot en oorgespoel," berig 'n omstander wat anoniem wil bly.

"Riool word normaalweg nie in die stormwaterstelsel afgevoer nie. Dit was die gevolg van dieoorlading van die pompe. Die pompe in die pompstasie is tydens die storm oorlaai, omdat reënwater in die rioolstelsel beland het en riool het gevolglik in die stormwaterstel beland," aldus mnr Hill.

"In Junie 2011 het die woonstelle ook oorstroom. Die woonstelle is op dieselfde erf opgerig waar twee huise vantevore weggespoel het," aldus mnr Kruger.

Volgens mnr Kruger was die wyksraadslid vir Danabaai, mnr Flip du Plessis, Saterdagoggend op die toneel en het hy Maandagoggend 'n volledige verslag oor die voorval aan die munisipale bestuurder gegee.
Personeel van Cheeta Skoonmaakdienste het twee dae gewerk om die stormskade aan een van die woonstelle skoon te maak, en die inwoner het hulle van harte vir hul ondersteuning bedank. Hierdie inwoner moes vir twee nagte in 'n hotel oornag.

Eden Plaza

By die Eden Plaza in die middedorp is sowat R80 000 se waterskade aangerig toe stormwater uit Georgeweg deur die kompleks gestroom het.

Die eienaar van Eden Plaza, mnr Ajeet Gill, berig dat die enigste stormwaterafvoer na sy wete vanaf die hoek van Kerk- en Blandstraat tot en by die La Mori Woonstelle waarskynlik geblokkeer was en water het dus in die straat opgedam. Hiervandaan het die water oor 'n keermuur gestort en deur die agterkant van die Eden Plaza gestroom.

"Water van sowat 'n meter hoog het vanuit Georgeweg die agterdeur van die Plaza oopgeforseer. Die water het met soveel krag deur die Eden Plaza gespoel dat ook die voordeur van die gebou beskadig is. Binne die Plaza het water, slik, modder en klippe sowat 45cm dik gelê toe omstreeks 08:45 met opruimingswerk begin is. Opruimingswerk het die ganse naweek voortgeduur. Die waterskade is omvattend en nie net tot voorraad beperk nie.

Was die stormwaterdreinering in Georgeweg voldoende, sou die water nie dermate opgedam het en die Plaza nie oorstroom het nie, het mnr Gill aan die Advertiser gesê.

Benewens hierdie gevalle het talle lesers ook foto's ingestuur van waterskade by hul wonings, waar trappe in klein watervalletjies omskep is en groot poele water opgedam het.

* Tuinroete Agri se winkel het oorstroom, hoewel, na wat verneem word, geen skade aangerig is nie.

* Die Mosselbaai Brandweer moes 'n huiseienaar in D'Almeida bystaan toe die nat grond bygedra het dat 'n trap tot by die tweede verdieping van die huis weggebreek het. Die brandbestryders moes 'n baba en jong kind deur 'n venster na veiligheid help.
* Na wat verneem word, is die eksamenlokaal van Hoërskool Sao Bras oorstroom maar betyds opgeruim sodat die matriekleerders Maandag eksamen kon aflê.

* ‘n Stormwaterpyp was verstop by die Garden Route Primêre Skool in KwaNonqaba.

* Stormskade is ook in A Ferroxweg, Danabaai ondervind waar stormwater plaveisel en skanskorwe meegesleur het.

* Mense wat deur die Gouritzrivier in vloed vasgekeer is, kon uiteindelik op eie stoom veiligheid bereik.
Die munisipaliteit het huiseienaars wel teen die stormweer gewaarsku.

"Mosselbaai se stormwaterstelsels word gereeld skoongemaak, onder meer met hoëdrukspuite. Die munisipaliteit ondervind groot las van allerlei voorwerpe soos klippe, plastieksakke, klere, stompe en selfs motorbande wat in die stelsels beland en verstoppings veroorsaak. Die publiek word weer eens versoek om nie rommel of ander voorwerpe in die stelsels te gooi nie.

"Daar word groot probleme ervaar met huiseienaars wat hul huisgeute in die rioolstelsels laat uitloop, ondanks die feit dat dit ‘n verbode praktyk ingevolge die Munisipaliteit se Verordening insake Waterdienste is. Die pompe in rioolstasies is ontwerp om bepaalde volumes riool te hanteer, maar as gevolg van die stormwater wat via dakgeute in die rioolstelsel beland, styg die volumes tot so ‘n mate dat die pompe dit nie kan hanteer nie. Dit was waarskynlik die geval in Danabaai en by Nautica," sê mnr Hill.

Fotos: Mosselbaai Advertiser - (Klik of fotos om te vergroot.)